Toespraak deur President Nelson Mandela ten tye van 'n aandete aangebied deur die randse afrikaanse universiteit

South African History Online

Toespraak deur President Nelson Mandela ten tye van 'n aandete aangebied deur die randse afrikaanse universiteit

Meneer die Rektor,

Laat my ten eerste toe om u van harte te bedank vir die oorhandigingral, om u
te bedank vir die warmte waarmee u vir my en Mevrou Graca Machel vanaand hier
ontvang het.

Feitlik my hele grootmens-lewe is, op een of ander wyse, in die
bevrydingstryd deurgebring. En ek wil een deurlopende ervaring van daardie lewe
vanaand met u deel. Dit is, naamlik, die opwinding wat 'n mens deurgaans gevoel
het oor die moontlikhede wat daar bestaan in 'n bevryde Suid-Afrika waarin all
inwoners van die land as gelykes, as broers en susters, in vrede en harmonie kan
saamleef.

In hierdie nuwe demokratiese samelewing waaraan ons bou, word soveel van wat
toe opwindende moontlikhede was, nou inderdaad verwerklik. En ek wil erken dat
weinig dinge my meer opgewonde en dankbaar maak, as die wyse waarop mense uit
die Afrikaanse gemeenskap sonder voorbehoud besig is om deel te word van die
nuwe samelewing en van die bou-proses. Die warmte en natuurlike gasvryheid
waarmee ons vanaand hier by die Randse Afrikaanse Universiteit ontvang is, is 'n
sprekende voorbeeld daarvan.

Ek huiwer om te maklik te praat van "die Afrikaners". En veral hier vanaand,
sal dit sekerlik dubbel onvanpas wees om te gladweg te veralgemeen. U inrigting
self het bewys hoedat 'n tradisionele wit Afrikaner-instelling aanpas, verander
en omvorm om die verskeidenheid van u breer omgewing te begin weerspieel en
dien, sonder dat dit wat kultureel belangrik is vir Afrikaners verloen word.

Dit is deel van die opwindende bevrydingsmoontlikhede waaroor ons gedroom
het. Al meer en meer mense uit die Afrikaanse gemeenskap is besig om hulself te
bevry van beperkende omskrywings van hul Afrikanerskap - omskrywings wat daarop
gemik was om hulle polities en kultureel gevange te hou, afgesonderd van en in
stryd met hul landgenote.

Die bevryding van ons Afrikaanse landgenote uit daardie beperk- ings, is ons
almal se bevryding. Dit is nie tot die voordeel van enigiemand in die land dat
enige gedeeltes van ons samelewing eenkant, ontevrede of afgesonderd staan nie.
Die gees van Afrikaner-pessimisme wat deur sekere intellektuele en kommentators
aangewakker en bevorder word, is nie slegs skadelik vir die moreel van
Afrikaners nie. Dit vreet aan die sement en boustof van ons hele nuwe samelewing
en nasie.

Dit is om daardie rede dat wat hier by RAU gebeur, en dit wat deur u en u
werk verteenwoordig word, ons soveel vreugde verskaf. Van wat ons weet van u
inrigting en sy bedrywighede, sien ons hier die aangesig van die nuwe
Afrikaans-sprekende intellektueel IN en VAN die nuwe Suid-Afrika.

Afrikaners as groep het in sekere opsigte die mees unieke ervaring, en
daarom, geleentheid in Suid-Afrika. U ken in u geskiedenis die ervaring van die
onderdrukte te wees - soms wreed en onmenslik onderdruk. U ken ook die
geskiedenis van heerser wees - dikwels met swaar lyding deur die oor wie daar
geheers is. Weinig, indien enige, ander groep kan met daardie historiese
ervaring kom aansit by die bou-tafel van die nuwe Suid-Afrika.

Nou het lede van die Afrikaanse gemeenskap die geleentheid en uitdaging om
met al daardie middele, vaardighede en ervaring, onmisbaar deel te word van die
nuwe samelewing. Ons praat hier van middele en vaardighede in die breedste sin -
materieel sowel as intellektueel. En ook die menslike en geestelike middele wat
uit so 'n geskiedenis kon groei, en waaruit ons almal kon leer en baat.

Dit is daarom ook dan dat die reaksie van sommige leiers om die
Waarheids-en-versoeningskommissie af te maak as 'n heksejag op Afrikaners, so
jammerlik en so afbreukend is. Ek hoef nie te herhaal wat ek in die Parlement
gese het nie: geen groep staan kollektief in die beskuldigde-bank nie.

En leiers van 'n bevolkingsgroep wat beide onder verdrukking gely het en
later self weer deel van 'n onderdrukkende stelsel was, sou deur die
Waarheids-en-versoeningskommissie veel kon bydra tot die versoenende genesing
van ons samelewing.

Meneer die Rektor, ek sou ten slotte tog net ook weer 'n woordjie wou spreek
oor die kwessie van Afrikaans in die nuwe Suid-Afrika en dan meer besonderlik,
Afrikaans binne die universiteitswese.

Kort en kragtig en ondubbelsinnig: daar is niks in die beleid of benadering
van my regering wat uitsluit dat 'n bedeling beding kan word waar sekere
inrigtings 'n spesifieke taal as die hoof-medium van wetenskaps-bedryf mag he
nie.

Sover dit Afrikaans betref, is daar die gevaar dat sekere kamp - vegters vir
die andersinds heel wettige aansprake van Afrikaans, andere kan vervreem deur
die indruk te laat dat Afrikaans die enigste taal is wat in die gedrang is; of
dat die belange van Afrikaans-sprekendes die enigste is wat ter sprake is by die
oorweging van die saak.

Dit is weer eens ons indruk dat wat hier aan die RAU gebeur, 'n rigting-wyser
is van hoe daar met die ingewikkelde kwessie omgegaan kan word. Afrikaans het
hier 'n ruimte waar hy kan bly voortbestaan en groei as akademiese medium en
wetenskapstaal. Terselfdertyd, soos ons dit verstaan, word daadwerklike pogk om
veeltaligheid te bevorder en andertaliges as volle lede van die universiteit te
betrek. En wat ons veral opval in verband met die breedte van u fokus, is nie
slegs die taalkwessie nie. Die wyse waarop u programme uitreik na die breer
gemeenskap, maak van u inrigting 'n waardevolle en onmisbare vennoot in die
heropbou en ontwikkeling van ons hele samelewing.

Soms wonder 'n mens of die Afrikaanse intellektuele wat so pessimisties
klink, nie uit pas is met die gewone Afrikaans- sprekende burgers van die land
nie; want onder laasgenoemde onder- vind ek oor die algemeen net 'n positiewe
ingesteldheid tot en betrokkenheid by die nuwe Suid-Afrika. As ek sien en hoor
wat by die Randse Afrikaanse universiteit aan die gang is, voel ek nog meer
oortuigd dat daardie doemprofete nie slegs uit pas is met die gewone
Afrikaans-sprekende man en vrou nie; hulle is ook nie verteenwoordigend van die
hele Afrikaanse intellektuele gemeenskap nie.

Dankie vir 'n heuglike aand, en vir die voorreg om met die nuwe Afrikaanse
intellektueel te kan verkeer.