TOESPRAAK TYDENS MIMOSA DINEE
Table of Contents:
- TOESPRAAK TYDENS MIMOSA DINEE
- Uitgereik deur: Die Kantoor van die President
TOESPRAAK DEUR PRESIDENT NELSON MANDELA TYDENS 'n DINEE AANGEBIED DEUR
MIMOSA ROLPRENTPRODUKSIES
Bloemfontein, 22 Augustus 1996
Meneer die Seremoniemeester;
Voormalige Staatspresident Mnr P W Botha en
Mev Botha;
Premier Lekota;
Hoogwaardigheidsbekleers;
Sakeleiers van
Suid-Afrika en van die Buiteland;
Dames en Here,
Dit is vir my 'n groot voorreg om vanaand in u midde te kan wees hier in die
hart van die Vrystaat, en om die warm gasvryheid van die Vrystaat te geniet.
Versoening en die bou van nasionale eenheid le my baie na aan die hart. Die
Vrystaat is 'n model van versoening in ons land, en dit is daarom dan ook vir my
so 'n besondere voorreg om hier te kan wees vanaand: in hierdie provinsie waar
die afstammelinge van Moeshoeshoe en die Trekkers, die agter-kleinkinders van
Adam Kok en die Britse setlaars, hande kon vat om saam te werk vir die
verbetering van die lewe van almal in die provinsie; die provinsie waarin mense
wat hul historiese inspirasie put uit die werke en lewens van sulke verskillende
figure soos 'n Sol Plaatje, Generaal Christiaan de Wet, Bram Fischer of Emily
Hobhouse, vandag saamwerk rondom 'n gemeenskaplike lojaliteit aan 'n verenigde,
demokratiese, nie-rassige en nie-seksistiese Vrystaat.
Hierdie stad, Bloemfontein, dra in sy geskiedenis soveel drade van die
ryk-geskakeerde geskiedenis van ons land; dit was die setel van een van die ou
trekker-republieke waar die anti-imperialistiese vryheidstrewe van een groep
saamgeleef het met die ras-gebaseerde uitsluiting van ander inwoners van die
streek; dit is die geboortestad van die nasionalisties-gesinde politieke party
van wit Afri- kaners, sowel as van die nasionale bevrydings-beweing van die
Suid- Afrikaanse meerderheidsbevolking. Vandag is dit die setel van 'n
demokraties-verkose provinsiale regering wat 'n skitterende voor- beeld stel van
hoe daar saamgewerk kan word om die groter onthalwe van die provinsie en al sy
mense.
Hierin le die ware skoonheid van die Vrystaat - in sy versoenende en
simpatieke inwoners. Ons verheug ons oor wat hier bereik is omdat dit bewys dat
dit inderdaad moontlik is om 'n nuwe Suid-Afrikaanse nasie te bou. Ons weet
egter ook dat hierdie pad van versoen- ing 'n lang pad is. Ons behoort onsself
deurgaans daaraan te herinner dat versoening 'n twee-rigting proses is. Dit
behels nie die op-sleeptou-neem van witmense deur 'n swart agenda, of swartmense
deur 'n wit agenda, nie.
Soos ons strewe om te doen met die Waarheids- en Versoenings- kommissie,
behoort ons op alle terreine te doen; naamlik, om met eerlikheid te kyk na die
optredes en prestasies van ons verlede, en ons af te vra hoe dit voorgekom het
vir andere, en watter belange daardeur gedien is. En ons almal, wit en swart,
moet onsself telkens afvra: is ons besig om die nodige veranderinge aan te bring
en te ondergaan wat vereis word deur ons gesamentlike toewyding aan 'n
demokratiese samelewing?
Die stabiliteit wat met versoening gepaard gaan, is van uiterste belang ook
vir die ekonomiese toekoms van die provinsie. Net so is die ekonomiese klimaat
weer van sleutel belang om die gemeenskapsgevoel en stemming te bepaal. Daarom
waardeer ek dit dan ook om hier te kan ontmoet met sake-leiers van die Vrystaat.
Dit gee my die geleentheid om nogmaals te beklemtoon dat dit noodsaaklik is vir
die regering en die privaat-sektor om hande te vat en saam te werk ter
bevordering van groei en ontwikkeling waaruit al die mense van die provinsie,
sowel as beleggers, voordeel kan trek.
Die regering se makro-ekonomiese plan bied so 'n raamwerk waar- binne die
regering en die privaat-sektor kan saamwerk in die skep- ping van groei,
werksgeleenthede en die middele vir 'n voorspoedige Suid-Afrika vir al sy
inwoners. In alle aspekte van daardie plan is daar opwindende geleenthede vir
die Vrystaat.
Daar le groot potensiaal vir groei en ontwikkeling opgesluit in die provinsie
se landbou-sektor; die sterk aanwesigheid van die mynbouwese; en in die
belowende moontlikhede van toerisme en die konferensie-bedryf.
Om daardie potensiaal te verwerklik, vereis beleggings. Vertroue aan die kant
van oorsese beleggers sal afhang van die toewyding wat plaaslike
privaat-beleggers vertoon. Die aankondiging van 'n R350 miljoen belegging om
Bloemfontein se Mimosa Mall uit te brei en op te gradeer, was 'n duidelike
verklaring van vertroue in die toekoms van die streek deur plaaslike en
nasionale sakelui.
Die hervestiging van Mimosa Film-ateljees na Bloemfontein, sal ook bydra om
verskeidenheid te bring in die provinsie se ekonomie. Dit kan ook help om
hierdie provinsie deel te maak van die transformasie en ontwikkeling van die
Suid-Afrikaanse rolprent-bedryf.
Soos op meeste gebiede, sal die transformasie van hierdie bedryf natuurlik
ook nie 'n maklike proses wees nie. Die middele, vaardighede en ervaring wat oor
jare versamel is onder die ongelyke omstandighede van ons verlede, sal nou
oopgestel en gedeel moet word met 'n veel breer groep van deelnemers. Om die
gevolge van die uitsluiting van meeste Suid-Afrikaners uit die rolprent-bedryf
reg te stel, sal spesiale pogings en maatreels vereis.
Die ontwikkeling van die Suid-Afrikaanse rolprent-bedryf tot sy volle
potensiaal, is 'n saak van groot belang vir die Regering. Die Departement van
Kuns, Kultuur, Wetenskap en Tegnologie is besig met die snelle
beleidsontwikkeling waardeur die opwindende hergeboorte van die Suid-Afrikaanse
rolprent ingelei sal word.
'n Suid-Afrikaanse rolprent-bedryf waardeur mense hul eie ver- hale kan
vertel en hoor, is belangrik vir die ontwikkeling van 'n nasionale bewussyn, as
viering en bevestiging van dit wat ons gemeenskaplik het sowel as van die ryke
verskeidenheid van ons gemeenskappe. 'n Lewenskragtige rolprentbedryf sal ons
help om ons probleme te verstaan en in die gesig te kyk eerder as om die aandag
daarvan te probeer aftrek. Ook om die werklikhede van Suid-Afrika aan die wereld
oor te dra.
Die Regering beplan 'n Groei-strategie vir die Kultuur-indus- triee. Dit
behels, ondermeer, 'n ondersoek na die dinamika van die rolprent-bedryf, om vas
te stel waar blokkasies voorkom en hoe die Regering kan help met die
ontwikkeling van die bedryf. Daar sal 'n forum gestig word waar al die
belanghebbendes bymekaar kan kom om 'n groeiplan op te stel.
Dit word wereldwyd aanvaar dat die ontwikkeling van 'n sterk rolprent-bedryf
'n mate van regeringsteun benodig. In die opsig sal ons 'n breuk maak met die
verlede toe 'n groot deel van die beskikbare subsidie na 'n handjievol
rolprent-makers gegaan het. Die klem sal nou val op duidelike maatstawe en
deursigtige werkswyses, en op ontwikkelings-doelstellings soos, byvoorbeeld, die
aanmoediging van jong rolprent-vervaardigers, die opspoor van nuwe talent, die
lok van buitelandse beleggings en die bevordering van werksverhoudinge met ander
lande.
Ons verwag dat 'n tussentydse Rolprent-fonds binne enkele weke op die been
sal kom. Teen die eerste helfte van aanstaande jaar behoort 'n statutere
befondsings-liggaam, "The National Film and Video Foundation", aan die gang te
wees.
Ek het vanaand bewustelik in besonderheid klem gele op hierdie aspekte, omdat
dit ter sake is aangesien ons gasheer 'n rolprent- vervaardiger is. Maar dit
werp ook lig op wat besig is om op ander terreine van die regering te gebeur.
Ons is ver verby die stadium van beleids-formulering en debat; ons is besig om
dit in werking te stel saam met ons sosiale vennote.
Die Regering het bewys gelewer van sy toegewydheid tot die skepping van 'n
klimaat bevorderlik vir ekonomiese groei, en die daarstelling van 'n vennootskap
met die provinsies en die private sektor.
Die kwessie van geweld mag miskien nie onmiddelik ter sake wees vir vanaand
se onderwerp nie, maar ek wil tog graag 'n enkele opmerking daaroor maak. Die
regering se gemoeidheid om 'n klimaat vir ekonomiese groei te skep, behels ook
voorkeur-aksies om diegene wat verantwoordelik is vir misdaad en geweld, aan die
man te bring. En ek vra my af: het die tyd nie aangebreek vir alle besorgde
mense om hul volste ondersteuning en samewerking aan die polisie te gee in 'n
vennootskap om die reg te laat seevier?
Hierdie streek het, dwarsdeur sy aangetekende geskiedenis, leiers van formaat
op elke gebied opgelewer. Ek het volle vertroue dat sy huidige sakeleiers
weereens ten volle opgewasse sal wees vir die uitdagings om van die Vrystaat 'n
wen-provinsie te maak.
Ons kan egter nie hierdie aand laat eindig sonder om erkenning te gee aan 'n
besondere Vrystaats-gebore leier in ons midde. Die aanwesigheid saam met my hier
vanaand van oud-Staatspresident P W Botha, is nog 'n teken van hoe ver ons in
hierdie land geloop het op die pad van versoening en genesing. En dit gee ons
die geleentheid om erkenning te gee aan die baie belangrike rol wat hy gespeel
het om daardie pad te baan, en dit moontlik te maak vir ons om almal so saam
hier bymekaar te kan wees.
Laat ons almal hane vat om 'n beter lewe vir ons mense te skep. Laat ons die
nuwe eeu binnegaan in 'n vennootskap vir voorspoed.
Ons is so suksesvol soos wat ons graag wil wees. Met u hulp en vertroue in
die toekoms van Suid-Afrika, kan ons land een van die grotes in die wereld wees.
Dankie




