Toespraak van President Mandela tydens 'n besoek ann Genadendal
Toespraak van President Mandela tydens 'n besoek ann Genadendal
Genadendal, 10 Oktober 1995
Geagte Voorsitter;
Vriende;
Jong Mense.
Dit is altyd vir my baie spesiaal om met jong mense te praat en daarom wil ek
julle bedank vir die voorreg om vandag met julle te kan gesels. Die grootse deel
van ons ouer mense se lewens is verby, maar julle lewens le nog voor en die
toekoms van ons land is in julle hande.
Ek se dit diep bewus daarvan dat ons ouer mense in baie opsigte gefaal het om
vir julle die soort van toekoms te gee wat julle verdien. Die jare van apartheid
het ons land diep wonde toegedien en sonder dat dit julle fout is moet die jong
mense van ons land nog elke dag stry met die gevolge daarvan.
Tog is ek diep dankbaar dat ons na lang jare van stryd daarin geslaag het om
'n demokratiese regering te verkies wat nou begin met die infassering van gratis
onderwys en wat hulpbehoewende jong kinders help met die skoolvoedingskemas. Dit
is nog nie naastenby genoeg nie, maar ons het 'n begin gemaak.
Vandag kan ek vir julle met vertroue se dat nuwe horisonne besig is om julle
as jongmense oop te gaan. Gryp die onderwysgeleenthede en ander moontlikhede om
jullself te ontwikkel met beide hande aan. Om te kan lees en skryf, om te kan
studeer met 'n beroep in die vooruitsig is nie vanselfsprekend nie - dit is 'n
groot voorreg. 'n Voorreg wat baie van julle ouers gedurende die lang, swaar
jare van apartheid nie gehad het nie.
Noudat ons begin om nuwe geleenthede aan julle te bied, wil ek by julle pleit
om nooit te vergeet dat dit moontlik is as gevolg van die stryd en werk van
julle ouers nie.
Onderwys en opleiding het 'n baie spesiale plek in die geskiedenis van
Genadendal. Met die leiding van Morawiese sendelinge is 'n trotse
onderwystradisie hier gevestig en van oral uit die ou Kaapkolonie het julle
voorouers hierheen gekom om deur studie en kennis hulle slawekettings af te
gooi. Dit is goed vir julle, wat die afstammelinge is van daardie mense wat
hullself bevry het, om met trots te onthou waar julle vandaan kom en so 'n vrye
toekoms tegemoet gaan. Die geskiedenis van Genadendal is ook die geskiedenis van
die Kleurlingmense van die Wes-Kaap en ook die geskiedenis van die mense van
Suid-Afrika. 'n Geskiedenis waarop julle as jongmense ook trots moet wees en wat
julle moet bewaar vir julle kinders.
Deur middel van studie kan 'n mens jouself ophef en kan julle, jul gemeenskap
hier help om armoede af te skud en 'n beter lewe vir almal te skep.
Dit is vir my 'n riem onder die hart om te hoor dat die matriek- leerlinge so
goed presteer. Deur hard te studeer respekteer julle nie net Genadendal se
onderwystradisies nie, maar julle verseker ook vir julleself 'n beter lewe. Met
die matriekeksamens is julle in my gedagtes en ek het die volste vertroue dat ek
met trots sal hoor dat julle uitstekend gepresteer het.
Een van Genadendal se tradisies wat vir my baie besonder is, is die jaarlikse
Kinderfees; wanneer al julle kinders die berg opklim om wilde blomme te pluk
waarmee julle dan die kerk versier. Ek dink die simboliek van hierdie eeue oue
tradisie is baie belangrik in die nuwe Suid-Afrika. Ons moet instellings soos
die kerk en waardes van respek vir alle mense, wat oor eeue heen in ons gelowe
oorgedra is, vir die toekoms behou.
Tog wil ek ook my bekommernis aan julle noem dat ek meer onlangs gehoor het
van sporadiese misdrywe deur enkele jong mense onder julle. Misdaad moet dadelik
in 'n gemeenskap hokgeslaan word en dit is nog nie te laat nie; daarom doen ek
'n beroep op die van julle wat begin om die pad byster te raak: Bou julle
toekoms op die morele beginsels wat al die jare die ruggraat van hierdie
gemeenskap was.
Die jongmense van Genadendal is al vir lank betrokke in die stryd teen
onderdrukking. Die Morawiese Jeug Unie van Suid-Afrika, wat gereeld jeugkampe
hier hou, het 'n lang tradisie van teenstand teen apartheid. Mense soos Ashley
Kriel en Cecil Esau, wat die hoog- ste prys betaal het in die stryd teen
rassisme, het hierdie jeug- kampe bygewoon. Julle het 'n verpligting om met
julle gedrag hulle nagedagtenis te eer.
Baie van die jong mense wat goeie onderwysopliding hier ontvang het, het al
padgegee uit Genadendal. Ek is bewus daarvan dat hier nie altyd genoeg
werksgeleenthede is nie en dat die groot stede 'n baie sterk aantrekkingskrag
het, maar ek wil julle tog aanmoedig om te soek vir geleenthede om ook hier te
bly. Genadendal sal slegs kan aanhou om sy belangrike geskiedkundige rol te
vervul indien daar uit julle geledere diegene is wat die leisels kan oorneem by
die ouer mense as leiers van hierdie gemeenskap.
Ek wil afsluit om elkeen van julle, vanaf die kleinste tot die oudste kind,
te verseker van my groot liefde vir julle. Wanneer ons ouer mense nie meer
verder kan gaan nie, sal julle moet voortgaan om ons nuwe nasie te bou. Tesame
met al die kinders van ons land is julle ons kosbare skat en toekoms. Die hoop
van ons reenboog nasie.
Baie Dankie!




